Carel Christiaan is na sy oupa wat in 1821 gebore is, vernoem. Sy oupa is weer die seun van Hendrik Jacobus *1766 en sy tweede vrou, Johanna Sophia Schlosser, die weduwee van Philippus Raap. Hendrik is weer die jongste seun van Matthys Rostok Lourens. Hendrik is amper soos mens dit sou verwag, eers met ’n Swart getroud; Margaretha Maria Swart, ook gebore in 1766 – die dogter van Johannes Swart van Uilenkraal en Elsabe Jansen. Na Margaretha se afsterwe is Hendrik in 1818 in Caledon met Johanna Sophia getroud. Johanna Sophia wat in 1776 gebore is se vader is ’n stamvader; Carl Christiaan Schlosser afkomstig van Zittau in Duitsland. Hendrik was uiteindelik die trotse vader van 15 kinders waarvan die laaste twee deur Johanna Sophia die wêreld ingebring is.
Na al hierdie familie uitleg moet ek seker nie vergeet om noem dat Carel Christiaan self op 2 Oktober 1881 op Hagelkraal gebore en en ’n bietjie later te Napier gedoop is. Sy vader is Hendrik Cornelis Lourens, gebore in 1848 en alom bekend as Hendrik Jassie wat later Jaksie geword het. Volgens oorlewering het Hendrik Jaksie sy lewe lank vir ander boere as ’n voorman op Wolvengat, Haelkraal, Uilkraal en omgewing gewerk.
Die Lourens genealogiese rekord:b3 Matthys Rostok *1708c7 Hendrik Jacobus *1766 xMargaretha Maria Swart xxJohanna Sophia Schlosserd15 Carel Christiaan *1821 xElsabe Hendrina Lourens xxMaria Magdalena Elizabeth Swarte2 Hendrik Cornelis *1848 xCatharina Elizabeth Swartf6 Carel Christiaan *1881 xHendrina Petronella Geldenhuys |
Hierdie Carel Christiaan Lourens met ’n warm Afrikanerhart, wou in 1901 tydens die Boere-oorlog rebelleer. Boere-kommando’s was in die Klein-Karoo en Suid-Kaap bedrywig en hy het ’n perd en geweer weggesteek gehad. ’n Paar jong manne sou bymekaar kom in die Strandveld en dan snags beweeg en bedags skuil tot hulle kontak maak met ’n kommando. Pa Hendrik het gedreig en ma Nonnie het gehuil en gesmeek, want rebelle is gefusileer, maar Carel was koppig en vasbeslote. ’n Broer van ma Nonnie het hiervan te hore gekom en laat weet dat die aand as Carel na die versamelpunt ry, hy eers sy oom en neefs moet kom groet. So daag Carel toe een skemeraand op met sy perd, geweer en proviand en word hartlik in die groot plaaskombuis ingenooi en almal gaan sit by die tafel. “Carel”, sê sy oom, “jy gaan nou ’n man word so kom ons drink ’n witblitsie op President Kruger.” Hy en sy oom vat elkeen ’n glasvol aan die gesellige tafel, omring deur neefs en niggies. “En nou een op President Steyn”, en die oom gooi vir Carel ’n glasvol, maar hou sy hand om sy eie glas en gooi net ’n knêrtsie vir homself. Toe drink hulle op Generaal de Wet en Generaal de la Rey en Botha en Malan en Kritzinger en Hertzog en elke keer is dit dieselfde storie, ’n vol glas vir Carel en ’n bietjie agter die hand van sy oom vir homself. Na nog ’n paar heildronke kom Carel stadig orent en sê hy wil ’n heildronk op die rebelle instel en sy oom gooi. Toe Carel die glas na sy mond bring, vou hy en sy neefs vang hom voor hy die vloer tref. Carel is in die buitekamer op sy sy maak lê en ’n neef het op die bed langsaan deur die nag gewaak. Sy perd is die klowe ingejaag en sy geweer op die waenhuis se solder weggesteek. Die volgende dag, so 9 uur se kant, toe Carel slaap uit sy oë vee, was sy makkers al myle weg en so mis hy toe die hele oorlog.
(Storie verskaf deur Nico Groenewald)

